Daai KTM manne met baie Flash Drives

Saterdag was weer een van daai besige dae in die winkel. Ons moes omtrent bontstaan. Vir een-of-ander rede was daar ‘n groot aanvraag vir DVD’s en flash drives. Een ou, ‘n KTM ryer, het 5 verskillende groottes flash drives geneem. Dit laat ons toe vra: wat doen daai KTM manne met al die flash drives?

“Motorfiets video’s,” antwood hy en haal nog ‘n paar flash drives uit sy sak uit. Dakar video’s, foto’s en video’s van die KTM 690R en 990R motorfietse en video’s van hom en sy vriende iewers in die middel van die Karoo en deur diep riviere in die Baviaanskloof. 

Hy is ‘n adventure rider, vertel hy. En die video’s getuig daarvan. Die ander klante geniet dit ook. Hierdie KTM manne ry dat die stof so staan (en dat die water so spat). Dit lyk effe gevaarlik maar hy verseker ons dat geen grondpad te veel vir ‘n KTM is nie en dat hulle riviere tot meer as ‘n meter diep kan bemeester. Wel, mens kan nie met die bewysstukke stry nie.

Die kleiner flash drives word blykbaar tussen vriende gedeel. Maar wat gaan hy alles op die 64GB flash drive – ‘n Apacer AH552 – sit? Alles wat hy oor die nuutste KTM avontuur motorfiets kan kry. Ons google dit gou. Die KTM 1190 Adventure R – ‘n 235kg adventure bike met 150 perdekrag!

Ons maak beswaar. Dis onnodig te veel krag vir grondpad ry, dring ons aan, en stel voor dat hy liewer die nuwe waterverkoelde BMW R1200GS, wat onlangs so baie opspraak gemaak het, moet oorweeg.

Daar is ‘n oomblik van stilte. Dan verras hy ons met ‘n vers uit Jack Parow se ‘Cooler as ekke’ –

“Ek’s original/ jy’s gecopy/ ek’s ‘n flash drive/ jy’s ‘n floppy.”

Dis nou ‘n mening! Almal het lekker gelag.

Hier’s die nuwe KTM waaroor die man so mal is:

KTM 1190 Adventure R

Date: 24 Feb 2013